Visosse en vakansies by die see

The Strand, False Bay coast. © Gribble Collection, Drakenstein Heemkring

The Strand, False Bay coast. © Gribble Collection, Drakenstein Heemkring

Om in April – na die wyn gepars is en die vrugte-oes af is – see toe te gaan is ‘n baie ou Bolandse tradisie. In die ou dae – nog voor mense motors besit het – was dit ‘n bybelse uittog van kookpotte en kos, klere, beddegoed en seker ook visstokke. Alles op ‘n ossewa of kapkar.

Marlene Goosen vertel dat haar ma  as kind so op Gordonsbaai vakansie gehou het. Al die vakansie-goed is op ‘n wa gelaai wat dan met ‘n koei en ‘n paar hoenders vooruit gestuur is, dan het die familie heel deftig in ‘n kapkar ‘n dag later gevolg.

So in die gesels onhou ek weer van Henri Louw se boek “Pêrel van die Paarl” waar hy ook geskryf het oor hoe hulle as kinders Onrus toe gegaan het vir hulle vakansies. Voorbereiding vir die uittog see toe was net so belangrik. As kinders het hulle voor hulle vertrek loodsinkers gemaak en visstokke in die bamboesbos gesaag, die perde nuwe hoefysters gekry, en in die kombuis is vrugte gedroog.

Hy skryf dat selfs toe die regering sy pa se perde in die Anglo-Boereoorlog opgekommandeer het, het die familie nie van hierdie tradise gewyk nie. Sonder sy pa se spogperde was die ou vakansie-wa oorbodig. Die wa is toe verkoop en in plek daarvan het sy pa vir die gesin ‘n kompartement op die trein van Kaapstad na Caledon bespreek.

So het almal met al hulle bagasie, kos en visvang-gereedskap by Paarlstasie opgeklim vir die treinrit tot op Botrivier. Henri Louw skryf dat die trein teen Sir Lowryspas so stadig gery het dat passasiers kon afgeklim om blomme te pluk, en dan weer in die ry weer op klim.

Op Botrivier het sy pa gereël dat ‘n plaaslike boer vir hulle met ‘n ossewa na Onrus toe neem. Tot die kinders se vermaak is die boer se osse almal na visse vernoem: Geelbek, Roman, Steenbras, Kabeljou, Galjoen, Jokopewer, Rooi- en Witstompneus. In die ry het die boer dan sy osse aangespoor met ‘n uitroep van “Geelbek, Roman en ander visosse! Dit is die harde pad na die sagte belsbosse wat julle gaan lui maak!”

So het hulle dan gery tot op Dawidskraal waar hulle die osse uitgespan het en koffie gedrink het onder melkhoutbome, tot laaggety, sodat hulle verder langs die see tot op Onrus kon ry.

Na ‘n paar weke by die see, het die klomp songebrande “matrose” en “vissermanne” weer die pad terug na Botrivier aangedurf. Die laaste uitspan was altyd by ‘n spruit net voor Botrivier. Daar het die mans geskeer en almal hulle netjies en mooi gemaak vir die treinrit terug Paarl toe.

Vandag ry ons in ‘n uur of wat tot in Hermanus. Laat mens net wonder: die dag wat ons petrol en diesel opraak, sal ons nog ‘n paar visosse kry om in te span en ons see toe vat?

[The article was written by Marguerite Lombard and appeared in the Paarl Post, 21 April 2008]

Advertisements